Ek en my man, Nicol, het in November 2018 besluit dat sou ek swanger raak, dit okay is. Ons is reg vir kinders, maar ons gaan nie al ons fokus daarop plaas dat ek dadelik moet swanger raak nie. As dit gebeur, gebeur dit. Maar min het ons geweet dat dit dalk bietjie vinniger gaan gebeur as wat ons gedink het…
Vrydag – 5 April 2019 – 06:15
Cravings na goed wat ek NOOIT sou drink of eet nie, instant naarheid agv sekere reuke en bra’s wat nie meer pas nie – wat gaan aan?
Ek dink ek is swanger…
My man se reaksie – is jy seker? Kom ons se ma net dat dit nie die eerste keer is wat ek ‘n stokkie of vyf gaan koop het nie.
My man herinner my toe daaraan dat ons die Vrydag Johannesburg toe vlieg en ek is soos hulle se ‘n ‘anxious flyer’. Dit kan natuurlik die naarheid en cravings verduidelik omdat ek geneig is om meer te eet as ek gespanne is en ek gewoonlik nader aan die vlug bietjie naar voel. Maar nietemin het ek nogsteeds ‘n stokkie gaan koop net om seker te maak.
Die Vrydagoggend staan ons al half 5 die oggend op sodat ons betyds op die lughawe kan wees. Ek besluit om te toets sommer voor die vlug, dan hoef ek nie die hele naweek daaroor te wonder nie.
Ek haal die stokkie uit, doen my ding en sit dit op die kassie voor my neer. Daar verskyn vinnig ‘n helder donker lyn en ek staan op en begin my jean se knoop vasmaak sonder om weer na die stokkie te kyk. Ek was my hande en draai om om die stokkie in die drom te gooi. Maar die lyn het dan in ‘n plus verander?? Ek gryp die boks alhoewel dit duidelik op die toets wys dat ‘n plus swanger aandui.
Verstom, staan ek met die stokkie in my hand en loop uit die badkamer uit. Nicol, ek is swanger. Stokkie nogsteeds in my hand. Weer vra hy, is jy seker? Wel, dit wys ‘n plus. Onmiddelik beweeg hy na my toe en gee my ‘n drukkie met die woorde, dis great nuus en begin praat oor hoe opgewonde hy is.
Effens gespanne, maar baie opgewonde is ons toe oppad lughawe toe waar ons my skoonouers ontmoet vir die vlug.
Nie ek of my man is baie goed daarmee om geheime te hou nie, maar ons besluit toe saam dat ons eers later ons ouers sal vertel en met later bedoel ek die volgende dag.
Ons het geland in Johannesburg en is toe direk hotel toe. Daarna is ons winkel toe en ek en Nicol is toe baie angstig om by ‘n apteek uit te kom om ‘n ClearBlue toets te gaan koop wat die weke aandui. Ek het gelees dat die toetse die mees effektiefste is in die oggend en so moet ons toe nog die hele aand wag. Gelukkig het ons ‘n funksie om by te woon en dit sal hopelik die tyd vinniger laat verby gaan.
Dis Saterdag… Ek vlieg op en gaan toets weer en dis positief. Dit dui toe aan dat ek 3-4 weke swanger is. So besluit ons toe om my skoonouers te se asook my ouers op video call. Hulle was baie verbaas en opgewonde. Dadelik wil almal weet hoe ek voel en of ek al naar is. Min het ek geweet dat dit nog alles vir my voorle, maar dit is ‘n storie op sy eie.
Ek het bloed die Maandag laat trek om alles te bevestig en ek en my man besluit toe dat ons self die uitslae sal lees. Wat ‘n storie. Hulle se nie net swanger/ positief of nie swanger/ negatief nie. Daar is tellings van hormone en allerande dinge. Mens het defintief ‘n graad nodig om dit te lees of ‘n vriend met ‘n graad wat toe ons geval was, maar om doodseker te maak is ons in elk geval na my GP toe om alles te bevestig.
Dis bevestig – ek is DEFINTIEF swanger!
